
Biografie
-
Lize Beekman het reeds op 3 jarige ouderdom verklaar dat sy eendag haar eie liedjies sal skryf. Op 12 het haar eerste liedjie 'Like an Eagle', die lig gesien, en is terstond opgeraap deur die bekende Suid Afrikaanse kunstenaar Clive Bruce, wat dit opgeneem het as die titelsnit van sy album. Tydens haar hoërskool loopbaan stap sy met die louere weg in twee nasionale kompetisies vir twee agtereenvolgende jare, onderskeidelik die Skeppende Afdeling van Crescendo - ATKV en Skeppend & Uitvoerend in Sterre 2000 - RSG.
Sederdien bly Lize een van Suid Afrika se mees gesogte en geliefde liedjieskrywers. Haar komposisies en lirieke is oor die jare opgeneem deur van die grootste name in die Suid Afrikaanse musiekbedryf insluitend Laurika Rauch, Amanda Strydom, Matthys Roets, Theuns Jordaan, Elzabé Zietsman, Anke (idol) en Coenie de Villiers. Beekman se liedjie "n Sonneblom uit Bethlehem" is ook genomineer as Song of the Year tydens die GMT Awards in 2002.
In 1997 neem Lize haar debuut CD, "Eyes of a Child", op. Die komposisies vervat op die CD is eie aan Beekman, in Afrikaans en Engels, en kry oorweldigende positiewe reaksie van die publiek, die industrie sowel as die media. Sy word ook genomineer vir haar eerste SAMA Toekenning (South African Music Awards) in die kategorie Beste Volwasse Kontemporere Album - Engels.
Een van die snitte op die Aalbum "Lord, it's Raining" word ingespan vir die Nasionale MNET Rooineusdag Veldtog. Sy word ook mede SAMA wenner, met Amanda Strydom, in die kategorie Beste Musikale Klankbaan vir "'n Vuur gevang in Glas", wat hulle saam geskryf het.
Haar tweede album "Cake" volg in 2000, en bestaan uit nuwe material uit Beekman se pen, in Afrikaans en Engels. Die temalied van die gewilde TV-reeks 'Soutmansland' wat Beekman komponeer en uitvoer, word ook op die CD uitgereik.
In 2003 reik sy haar derde CD uit, Iemand Het Gesê. Dit bevat 12 snitte, almal oorspronklik Beekman, maar die keer ook 100% Afrikaans. Haar gehoor groei met rasseskrede na die uitreiking van Iemand Het Gesê, en sy word weereens genomineer in 2004 se SAMA's, in die kategorie Beste Volwasse Kontemporere Album -Afrikaans.
In 2004 komponeer en vervaardig Beekman die verhoogproduksie "tussenINbetween" waartydens sy optree saam met Gloria Bosman. Hulle betower gehore landwyd en word genomineer vir die KANNA Toekenning by KKNK 2004 in the Kategorie Beste Musikale Vertoning.
Teen die einde van 2004 loods Lize haar Fondsinsamelingsprojek ALL THE SAME met REVLON SA as haar korporatiewe vennoot. Sy neem die liedjie "All the Same" op, saam met vriend en musiek legende Vusi Mahlasela. Die fonds het sover R450 000 ingesamel vir Vigswesies en pasiënte van die St. Francis Care Centre in Boksburg.
Vroeg die volgende jaar (2005) skryf Beekman 5 liedjies in vir die ISC (International Songwriting Competition). Uit 11 000 inskrywings wereldwyd, bereik al 5 haar komposies die kortlys, 4 van die (een in Afrikaans) haal die semi-finaal en 1 dring deur tot die finaal. Sy word genooi om internasionaal op te tree, maar as gevolg van reeds gekontrakteerde optredes plaaslik, moet sy dit van die hand wys.
Dieselfde jaar stap Lize weg met die KKNK 2005 KANNA Toekenning vir Beste Uitvoering in Kontemporere Musiek.
November 2005 sien die uitreiking van haar vierde album, DRAADKAR OOR DIE SEE. Die titelsnit pronk op die Top 20 van verskeie radiostasies en sy word weereens genomineer vir 'n SAMA in 2006 in die kategorie Beste Volwasse Kontemporere album: Afrikaans.
In September 2007 reik Lize die CD Lize Beekman Lullabies, uit, geborg deur Baba & Kleuter en Baby City. Die promosie van die CD word deels ondersteun deur 7de Laan (SABC 2), wat Lize haar eie 3-episode storielyn gee, en die publiek gaande het. Die CD bestaan uit slaap liedjies in Afrikaans, Engels, Xhosa en Instrumenteel - alles oorspronklike Beekman komposisies. Wat die projek verder laat uitstaan, is dat alle wins wat gemaak word aan die Rooikruis Kinderhospitaal geskenk word. Die CD word ook genomineer vir 'n SAMA Toekenning in 2008 . Tot dusver het Lize reeds R250 000 aan die Rooi Kruis Kinderhospitaal bewillig.
In Mei 2008 word haar CD, SIT 'N BIETJIE LANGS MY, uitgereik. Dit is die eerste keer wat Lize met een van haar solo-vrystellings, ook self in die Vervaardiger stoel sit. Die Cd word uitstekend ontvang en was onder verskeie musiekwinkels se top10 verkopers.
In 2008 is sy ook deel van die baie suksesvolle Rapport Musiekblitz Toer, en ook maak Lize in Oktober 2008 vir die eerste keer 'n draai op die HUISGENOOT SKOUSPEL verhoog wat jaarliks by Sun City aangebied word.
In November 2008 gaan sing sy ook vir die eerste keer in Londen UK by Aardvark.
Lize is tans woonagtig in Melkbosstrand in Kaapstad vanwaar sy haar liedjies, stories, artikels en gedigte skryf. Haar tyd word verder in beslag geneem deur haar openbare optredes as spreker, sanger en musikant.


























